Elke druppel tel, want dit word droër, warmer, erger, moeiliker …
’n Voortsetting van die ekstreme droë en warm toestande wat Suider-Afrika die afgelope jare beleef, raak ’n ál groter risiko. JORISNA BONTHUYS neem die landbouvooruitsigte in oënskou te midde van die klimaatkrisis wat tans wêreldwyd ontvou.
Vir Charles Salmon, ’n boorling van die Klein-Karoo, hoef jy niks te vertel van die gang van verandering nie.
Salmon woon op Winkelplaas naby Ladismith, in die oorgangsgebied tussen die winter- en somerreënvalstreke. Hy werk al 14 jaar lank in die landbousektor en beleef eerstehands hoe talle boere van die distrik tans sukkel om aan die gang te bly.
Kannaland steier onder die voortslepende droogte, sê hy. Dit gaan met grootskaalse ontwrigting gepaard vir die ekonomie en diegene wat van landbou afhanklik is.
Winkelplaas het voorheen ‘n plaaswinkel gehad, ‘n goed gevestigde instelling in die dae voor die koms van koöperasies. Die uitwerking wat hierdie nuwe markplekke op die tradisionele plaaswinkels gehad het, beteken dat lede van kleiner gemeenskappe verder moes reis, na dorpe. Met klimaatsverandering is dit enigiemand se raaiskoot hoe ver die veranderings gaan strek en watter gevolge dit vir huishoudings hier inhou.
In Ladismith en omstreke trek produsente bitter swaar, sê Salmon. Vanjaar is die vierde droogtejaar agtereenvolgens in dié streek, wat grondvog en die koers van verdamping beïnvloed. Baie produsente het volgens hom nie geld om water uit boorgate te pomp nie. In sommige areas het boere vier jaar laas ’n leibeurt gehad. Sommige het reeds twee derdes van hul vrugteboorde verloor.
Winters in Klein-Karoo raak warmer
Die winters in die Klein-Karoo raak warmer. Dit veroorsaak dat vrugtebome nie behoorlik rus nie weens ’n afname in koue-eenhede, wat vertraagde bot meebring. Daar is ook nie oral genoeg water om bemesting ná oeste toe te dien nie. Die bome werk hard, hul reserwes word nie aangevul nie, en dit verkort hul leeftyd.
Salmon se eie byebedryf is die afgelope jaar bykans gehalveer. Daar is weinig natuurlike weiveld en nektar oor en hy voer sy bye suikerwater ter wille van oorlewing.
Die Klein Karoo is nie die enigste deel van die land wat deurloop weens warmer, droër en ekstreme toestande nie. Daar is volop bewyse dat Suid-Afrika toenemend warmer en droër word, wat onder meer risiko’s vir watersekerheid inhou. Só sê prof. Francois Engelbrecht, verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand se Global Change Institute.
Daar is verskeie ongeëwenaarde gebeurtenisse in onlangse tye wat gevaarligte laat flikker. In dié verband sonder Engelbrecht onder meer die onlangse groot droogte in Kaapstad (2015-2017), die verwoestende Knysna-brand (2017) en die grootskaalse vloedskade weens die tropiese sikloon Idai in Mosambiek (2019) uit.
Net effens verder terug in die verlede was die droogte van 2015-’16 in die somerreënvalgebied van Suid-Afrika, wat met ’n sterk El Niño-gebeurtenis gepaard gegaan het. Die El Niño-klimaatsverskynsel veroorsaak gewoonlik droër as normale somerseisoene in Suid-Afrika wanneer dit voorkom.
In 2015 was Suid-Afrika se gemiddelde jaarlikse totale reënval die laagste sedert 1904, blyk uit historiese rekords. Dié nasionale gemiddelde ondervang egter nie noodwendig die nypende toestande wat op provinsiale vlak geheers het nie. In die Vrystaat – die mielieproduserende hart van Suid-Afrika – het daar in 2015 byvoorbeeld net 321 mm uitgesak (vergelyke met die gemiddelde van 515 mm per jaar).
Wat Suid-Afrika se winterreënvalstreek betref, het die risiko van die soort droogte van 2015-’17 reeds drievoudig toegeneem weens menslike bydraes tot kweekhuisgasvrystellings, sê Engelbrecht.
Knysna-brand
Die Knysna-brand word as die mees vernietigende in sy soort beskou wat tot nog toe in ’n beboude gebied in Suid-Afrika voorgekom het. “Die slegte nuus is dat die aantal dae in die jaar met ’n groot brandgevaar toeneem,” benadruk Engelbrecht.
Boonop was die tropiese sikloon wat Mosambiek naby Beira getref het, die mees rampspoedige wat nóg hier voorgekom het. Meer as 1,000 mense is dood en meer as die helfte van die land se mielieoes is vernietig. “Al hoe meer intense tropiese siklone is potensieel ons voorland oor Sentraal- tot Noord-Mosambiek, maar wat ook die potensiaal het om Suid-Afrika te bereik,” waarsku hy.
Landbouproduksie
Klimaatsverandering is reeds onderweg teen ’n tempo wat grootskaalse aanpassings noodsaak.
“Die klimaat is onteenseglik aan die verander en die mens is onteenseglik hiervoor verantwoordelik,” sê Engelbrecht. “Dit is die ‘nuwe normaal’ wat in beplanning en begrotings verreken moet word.”
Suider-Afrika verhit tans vinniger as talle ander wêrelddele – min of meer dubbeld so vinnig as die tempo waarteen die wêreldwye gemiddelde temperatuur aan die toeneem is. Besondere sterk verhitting word ook in die besonder oor die laaste vyf dekades in die westelike en sentrale dele van Suider-Afrika bespeur.
Oor die komende dekades gaan landbouproduksie na verwagting aansienlik deur klimaatsverandering geraak word. ’n Drastiese toename in die voorkoms van hittegolwe word boonop oor die komende dekades voorsien, wat veral die plaaslike veebedryf en mielieproduksie kan laat steier. Geskikte gebiede waar gewasse soos mielies, sojabone, sorghum, sonneblom en aartappels tans aangeplant kan word, sal na verwaging oor die komende dekades verklein.
As temperature wêreldwyd gemiddeld met 1,5°C tot 2°C styg soos wat voorsien word, beteken dit ’n gemiddelde toename van 3°C tot 4°C in Suider-Afrika. “Sou internasionale onderhandelings om mensgemaakte kweekhuisgasvrystellings in te kort misluk, is ’n styging van 6°C die soort scenario waarop die streek afstuur,” sê Engelbrecht. “Daar is tans geen mieliegewas wat sulke stygings kan hanteer nie.”
#Winter of 2019 is WARMER than the Long Term Average in most parts of SA. Pretoria and Johannesburg was 2-3C warmer than Average. This week looks like another warm one for #Gauteng with Pretoria going up to 28C. Information for more towns will be given soon. pic.twitter.com/C2UM8cIRFr
— SA Weather Service (@SAWeatherServic) August 5, 2019